Cele gaan nie SAPD verlaat
2011-10-02 14:45
Johannesburg – Genl. Bheki Cele, polisiehoof, gaan nie die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) verlaat voordat sy werk nie voltooi is nie, het hy tydens 'n onderhoud aan die Sunday Independent gesê.
"Ek sal hier bly totdat my werk voltooi is. Daar is werk wat gedoen moet word en ek doen dit. Laat ek myself herhaal, ek sal hier wees totdat my werk klaar is. Ek dink nie so nie, ek sê vir jou so."
Cele het kommentaar gelewer nadat bewerings dat hy dalk gaan bedank of deur pres. Jacob Zuma afgedank gaan word die ronde gedoen het.
Dít kom nadat Thuli Madonsela, Openbare Beskermer (OB) op 14 Julie vir ’n tweede keer bevind Cele het onregmatig en onwettig
opgetree en hom aan wanbestuur skuldig gemaak in verband met ’n
huurooreenkoms van R1,17 miljard vir die polisie se provinsiale
hoofkantoor in Durban.
In Februarie het sy soortgelyke bevindings oor hom gemaak oor ’n
huurooreenkoms van R500 miljoen vir die polisie se nuwe hoofkantoor in
Pretoria.
Madonsela het bevind albei huurooreenkomste met die sakeman Roux Shabangu is ongeldig en onwettig omdat die Wet op Openbare Finansiële Bestuur
oortree is en dit strydig met tesourie-regulasies en tenderprosedures
is.
Hoewel Cele nooit self die huurooreenkoms met Shabangu
onderteken het nie, het hy ’n behoeftebepaling vir die nuwe provinsiale
kantoor in Durban goedgekeur, asook ’n versoek vir meer geld omdat die
polisie nie daarvoor begroot het nie.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het verlede Maandag gerugte ontken dat Cele afgedank gaan word.
Hy wou ook nie kommentaar lewer oor of Zuma al 'n besluit oor Cele geneem het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA