Cele dalk na Japan gepos
2011-07-20 10:07
Johannesburg – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, kan dalk as ambassadeur na Japan verplaas word te midde toenemende druk op pres. Jacob Zuma om hom te berispe.
Dít is een moontlike opsie wat deur Zuma opgeweeg word, het betroubare bronne aan The New Age gesê.
Volgens dié bronne is Cele se moontlike "herontplooiing" reeds tussen hom en Zuma bespreek.
Cele het by monde van sy woordvoerder, Nonkululeko Mbatha, gesê "ek gaan nie die gerugte bevestig nie".
Zanele Mngadi, woordvoerder van die presidentskantoor, het gesê daar is geen waarheid in die gerug nie.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê die departement dra geen kennis van Cele se skuif na Japan nie.
'n Seniorbron in die polisie het egter gesê die moontlikheid bestaan dat Cele na Japan verplaas kan word.
Die bron het gesê informele besprekings is reeds gehou om die moontlikheid van Cele se verplasing te bespreek. Indien Cele verplaas word, sal hy Gert Grobler, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Tokio, vervang.
Madonsela het verlede week haar verslag oor die huurkontrak van die Transnet-gebou in Durban bekend gemaak en bevind dat die polisie meer as drie keer die markwaarde vir die gebou betaal. Dít volg ná haar verslag oor die huurkontrak van die Middestad-gebou in Pretoria.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter