Cele: Terreur-dreigemente hou geen gevaar in
2010-05-13 14:06
Durban - Die Suid-Afrikaanse polisie dra geen kennis van enige terreur-dreigemente wat op die Wêreldbeker-sokkertoernooi gemik is nie, het Bheki Cele, die polisiekommissaris Donderdag gesê.
“Ons weet van geen dreigemente nie. Ons is reg om ons besoekers te beskerm,” het hy gesê.
Cele het verslaggewers by die King Shaka Internasionale Lughawe toegespreek gedurende ‘n geleentheid waar die polisie hul bevoegdheid voor die toernooi gedemonstreer het.
Hy het gesê beweerder terreur-dreigemente wat glo deur ‘n groep in Noord-Afrika gemaak is, is deeglik ondersoek en hanteer.
“Die dreigement is opgevolg en ons het gevind dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie,” het Cele gesê.
Hy het gesê daar is beweer dat die groep daarvan sal hou om te sien hoe die stadion waar die Amerikaanse span sal speel, opgeblaas word.
Hy het ook gesê hulle gaan alle risiko-lande fyn dop hou.
Talle polisie-eenhede het gewys hoe hulle lewensgevaarlike situasies soos vliegtuig-kapings en gyselaarsdramas gedurende die Wêreldbeker sal hanteer.
Talle eenhede soos die bomeenhede, reddingseenhede, skerpskutters en gyselaar-onderhandelaars was op die toneel teenwoordig.
-Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.