Casino naby Pta van R3,5 miljoen beroof
2011-09-19 10:03
Pretoria – Die polisie in Gauteng is op soek na 18 mans wat die Morula Sun Casino buite Pretoria van R3,5 miljoen beroof het, het 'n woordvoerder Maandag gesê.
Kapt. Solly Marindi het gesê 'n kassier wat by die casino werk, is ook tydens die rooftog ontvoer.
Die rooftog het Sondag plaasgevind.
"Vyf gewapende mans het 20:10 by die casino ingestap en skote in die vermaaklikheidsarea afgevuur. Hulle was gewapen met AK47-gewere," het Marindi gesê.
Die rowers het toe geld van die kassiere geëis
Hulle het toe 'n manlike kassier ontvoer en in 'n Toyota Hilux gevlug. 'n Audi A4 het by die hek vir hulle gewag en 'n BMW en twee Mercedes Benz-motors het op die perseel gestaan.
"Die kassier is langs die pad uitgegooi terwyl hulle in 'n konvooi weggery het."
Niemand is beseer nie. Die polisie ondersoek die saak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA