Carl Lewis blameer ASA
2009-09-15 13:15
Tel Aviv - Die afgetrede Amerikaanse atleet Carl Lewis blameer Atletiek Suid-Afrika (ASA) vir die penarie waarin die wêreld vroue 800m-kampioen, Caster Semenya, haarself bevind.
Luidens berigte wat verlede week in die Daily Telegraph in Australië verskyn het, het Semenya nie ‘n baarmoeder of eierstokke nie.
Maar volgens die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies (IAAF) sal die resultate van die geslagstoets eers in November bekendgemaak word.
Lewis sê hy is hewig omgekrap oor die manier waarop die situasie hanteer is.
“Hier is ‘n 18-jarige jong vrou, want dit is wat sy voel sy is, wat lelik deur die ASA in die steek gelaat is,” het hy Maandag tydens ‘n besoek aan Tel Aviv gesê.
“Ek wil graag aan almal sê dat ek teleurgesteld is, want hierdie is baie onregverdig teenoor Semenya. Sy sal vir die res van haar lewe hiermee moet sit. Ek hoop regtig dat sy haar medalje sal behou,” het Lewis gesê.
President Jacob Zuma het ook vroeër gesê dat die fiasko inbraak gemaak het op Semenya se privaatheid.
– Reuters