Calitz het nie geld vir prokureur
2013-01-30 12:48
Pretoria – Debbie Calitz kan nie 'n prokureur bekostig om haar op aanklagte, wat verband hou met dwelms, te verdedig nie, het die Hatfield-distrikshof in Pretoria Woensdag gehoor.
Calitz het aan landdros Kenneth Chauke gesê haar paadjies met haar prokureur, Latham Dixon, gaan skei.
"Ek kan nie bekostig om hom te betaal nie. Ek wil graag tyd hê om 'n ander prokureur te kry."
Chauke het geantwoord: "Mevrou, ons het nie tyd nie. Jy het die reg om 'n prokureur van jou keuse aan te stel. As jy dit nie kan bekostig nie, kry dan 'n prokureur van die Regshulpraad."
Die saak is tot 22 Februarie uitgestel.
Chauke het gesê indien die ondersoeke nie teen Februarie afgehandel is nie, sal die saak van die rol geskrap word.
Calitz het onderneem om by 'n volgende hofverskyning 'n prokureur te hê.
Sy en agt ander mense, waaronder haar kinders, Kerri-Anne and Jason Cross, het Woensdag in die hof verskyn op aanklag van die besit van dwelms.
Calitz en Bruno Pelizzari is byna ses maande gelede vrygelaat nadat hulle amper twee jaar lank deur Somaliese seerowers aangehou is.
Die polisie in Brooklyn en Garsfontein het ‘n klopjag uitgevoer nadat hulle ‘n wenk gekry het dat Calitz dagga en “magic mushrooms” gekweek het.
Sy het onlangs ‘n boek oor haar ervaring as gyselaar – Debbie Calitz: 20 Months in Hostage Hell – uitgereik.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA