Bylmoorde: Chaos toe oud-Bul verskyn
2011-04-07 13:08
Durban – 'n Chaos het Donderdagoggend by die Durbanse landdroshof losgebars toe 'n voormalige Blou Bul-flank op aanklagte van moord verskyn het.
Phindile Joseph Ntshongwana (33) het talle polisiemanne gestamp wat hom na die beskuldigdebank begelei het. Hy het 'n Bybel styf vasgeknyp in sy linkerhand.
Ná die gestamp en gestoot het Ntshongwana, wat verskillende tale gepraat het, toestemming gekry om die hof te verlaat.
Sy regsverteenwoordiger was nie Dinsdag in die hof nie.
Ntshongwana se pa, Liston, het aan die hof gesê sy seun het 'n geskiedenis van psigiatriese probleme en dat dié probleme meer as twee jaar gelede ontdek is.
"Hy het 'n bipolêre toestand. Sy toestand het gister (Woensdag) verswak en ons glo dat hy 'n private psigiater moet sien."
Liston, 'n voormalige diplomaat en sakeman, het gesê sy seun is by verskeie hospitale, insluitend Groote Schuur, behandel vir dieselfde toestand.
Ntshongwana is op medikasie.
Die staat het Ntshongwana na 'n distrikchirurg gestuur, maar die familie voel dat hy na 'n private psigiater gestuur moet word omdat sy toestand verswak het.
Liston het ná afloop van die hofverrigtinge aan joernaliste gesê sy seun maak staat op die Bybel wanneer sy toestand verswak.
Hy is verskeie kere in die rede geval deur familielede van die slagoffers wat hom daarvan beskuldig dat hy nie sy seun monitor nie.
"Jy het geweet jou seun het 'n probleem, maar jy het ons nie gesê nie. Ons het ons familielede verloor as gevolg van hom," het 'n vrou gesê.
Liston het gesê sy familie is geskok oor sy seun se beweerde dade.
Die saak is tot 14 April uitgestel.
Ntshongwana staan ook tereg op aanklag van poging tot moord. Die staat beweer hy het 'n vierde man gewond.
'n Man wat glo die aanval oorleef het, het glo aan owerhede gesê die voormalige rugbyspeler het hom daarvan beskuldig dat hy sy dogter verkrag en sy MIV opgedoen het.
Dit is nie duidelik of die staat nog aanklagte gaan byvoeg ná die uitkenningsparade wat onlangs gehou is nie.
Die polisie beweer Ntshongwana het sy slagoffers bekruip voor hy hulle in Umbilo, Yellowwood Park en Lamontville vermoor het.
Volg Nuus24 op Twitter