Byleveld kyk na plaasaanval
2011-12-08 08:02
Kaapstad – Twee bekende oudpolisiemanne ondersoek tans die onlangse plaasaanval op ’n jong paartjie buite Malmesbury.
Die private speurmaatskappy Sleuth Consulting Services is enkele dae ná die aanval aangestel om die polisie met die ondersoek te help.
Oudgenl.maj. Bushie Engelbrecht en oudbrig. Piet Byleveld is direkteure van dié maatskappy. Hulle het saam meer as 80 jaar se polisie-ondervinding.
In die aanval op 18 November is die paartjie – ’n man van 26 en sy verloofde van 29 – wreed deur drie mans aangeval. Dit was vroegoggend en die paartjie het nog geslaap.
Die Burger het berig dat die man met sy eie byl aangerand en sy verloofde deur twee van die mans verkrag is.
Die man se een arm is in die aanval gebreek en die spiere in sy ander hand is erg gekneus. Hy is in die Paarl Mediclinic opgeneem, waar hy geopereer is.
Engelbrecht het Dinsdag gesê hulle is nie daar om die polisie se ondersoek oor te neem nie. “Ons is gevra om met die ondersoek te help en dis wat ons doen. Kry ons leidrade, word die inligting met die polisie gedeel.”
Dit is die eerste plaasaanval in die Wes-Kaap wat hulle ondersoek. “Hoewel die vordering stadig is, is ons seker dat daar wel vordering is.”
Een van die maatskappy se speurders is tans op Middelburg (in die Oos-Kaap) waar leidrade wat deur die gemeenskap verskaf is, opgevolg word. “Ons is seker dat daar iets gaan uitkom.”
Intussen het die pa van die jong man wat aangeval is gesê sy seun sterk goed aan. “Hy slaap al baie beter en het homself ook al geskeer.”
Ook met sy verloofde gaan dit beter. “Sy is ’n baie sterk mens, maar ons sorg dat daar altyd iemand by haar is. Die kinders gaan albei vir berading en ons bid en gee liefde in oormaat.”
Hy het bevestig dat die private speurders aangestel is, maar het gesê dis nie om die polisie se werk oor te neem of te doen nie. “Dis basies om bystand te verleen.”
’n Man (28) is ’n week ná die aanval in hegtenis geneem. Hy verskyn weer op 19 Desember op aanklagte van roof, verkragting en poging tot moord in die Malmesbury-landdroshof.
Die polisie het glo van die gesteelde goed wat in die aanval gebuit is by sy huis gevind. Hy is ook positief verbind met ’n voetspoor wat op die plaas gevind is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger