By wie jy slaap en eet is al wat tel
2009-08-24 07:01
Dries Liebenberg
Pietermaritzburg. – Senzo Mchunu, LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, het ’n forensiese ondersoek gelas na aantygings dat ses van sy departement se mees senior amptenare aan nepotisme en selfverryking skuldig is.
Die kwessie het nou tot ’n punt gekom nadat die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), wat die aantyging al drie jaar lank maak, ’n paar weke gelede gedurende skooltyd by die departement se kantore hier betoog het.
Die forensiese ouditeurs behoort reeds teen einde vandeesweek aangestel te wees en sal dan voorleggings vra oor die bewerings wat in ’n “oop, deursigtige en regverdige proses” ondersoek sal word, het Mchunu gesê.
Die bewerings oor die onbehoorlike aanstelling van konsultante en diensverskaffers, asook die verduistering van miljoene rande kom te midde van gerugte dat dr. Cassius Lubisi, superintendent-generaal van die departement, op die punt staan om te bedank.
Terselfdertyd word Jabulani Mabaso, ’n voormalige diensverskaffer van die departement, daarvan aangekla dat hy tussen 2005 en 2007 bedrog van meer as R227 miljoen gepleeg het terwyl hy die aankoop en verspreiding van skryfbehoeftes en handboeke aan skole namens die departement moes bestuur.
Mchunu het gesê daar is “uitdagings” in die departement, maar geen krisis nie.
“Lubisi is in sy kantoor op die derde verdieping besig om te werk.”
Lubisi het ’n pos as hoof van die nasionale onderwysdepartement ná 2004 laat vaar om in KwaZulu-Natal te werk.
Mathonzi Mbuyiseni, provinsiale sekretaris van Sadou, het Mchunu se “daadwerklike stap” verwelkom, maar dit betreur dat diegene wat van ongerymdhede beskuldig word nie geskors is nie. “Hulle is steeds in hul poste waar hulle met die ondersoek kan inmeng.”
Hy het gesê Sadou het die klagtes al in 2006 geopper, maar “niemand was bereid om te luister nie”. “Ongelukkig word mense nie op meriete aangestel en bevorder nie, maar (op grond van) by wie jy slaap en saam met wie jy eet.”
Mchunu het egter daarop gewys dat die ouditeur-generaal die laaste twee boekjare geen fout met die departement se geldsake kon vind nie.
Weens die begrotingsbesnoeiing van 7,5% hou die departement sy kontantvloei maandeliks dop en hou die provinsiale tesourie ook ’n wakende oog, het Mchunu gesê.
- Beeld