Buthelezi wil Dalai Lama nooi
2012-11-29 18:10
Kaapstad – Die Dalai Lama sal binnekort 'n uitnodiging ontvang om Suid-Afrika te besoek, het Mangosuthu Buthelezi, leier van die IVP, Donderdag gesê.
Buthelezi, wat per telefoon vanuit Ulundi in KwaZulu-Natal gepraat het, het aan verslaggewers in die parlement gesê hy is verheug oor die appèlhof se beslissing dat die regering onwettig opgetree het toe die Tibettaanse geestelike leier se aansoek om 'n visum vertraag is.
"Dit laat die vraag ontstaan waarom die regering, wat die Dalai Lama twee keer verhoed het om Suid-Afrika te besoek, iets sal doen wat so teen die wil is van die mense van hierdie land, die waardes van ons Grondwet, en alles wat goed, edel en waardig is in openbare betrekkinge," het hy gesê.
Buthelezi en die leier van Cope, Mosiuoa Lekota, het destyds appèl aangeteken teen 'n beslissing van Kaapstad se hooggeregshof wat die saak uitgegooi het.
Die Dalai Lama het op 4 Oktober verlede jaar sy besoek aan Suid-Afrika, om emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu se verjaardag by te woon, gekanselleer.
Tutu het in reaksie die huidige regering daarvan beskuldig dat hy erger as die regering van die apartheid-era is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA