Busse vol vrywilligers maak hospitaal skoon
2010-08-22 06:57
Vrywilligers, polisielede en soldate het die laaste paar dae moue opgerol om gesondheidsorg by hospitale aan die gang te hou.
By die Steve Biko-hospitaal in Pretoria het drie busse vol vrywilligers die hospitaal skoongemaak nadat dit deur stakers bemors is.
Onder die vrywilligers was werknemers van ’n sakeonderneming wat alarmstelsels verkoop.
Elize Bosch, ’n verkoopsverteenwoordiger, het gesê: “Ek het empatie met van die werkers wat staak, want hulle verdien beter vergoeding.
“Maar ek is kwaad oor en gewalg met wat hier aangaan. As jy die mediese beroep kies, dan kies jy ’n roeping, ’n arbeid van liefde. My pa het verlede jaar in dié hospitaal gesterf. Wat sommige stakers hier gedoen het, is swak.”
Frank Grobbelaar, ’n verkoopsbestuurder wat ook by die Steve Biko-hospitaal uitgehelp het, het gesê hy het twee kinders en wil ’n voorbeeld wees vir hulle. “Ons moet ons medemens help.”
Rekrute van die polisiekollege in Pretoria, geklee in blou sweetpakke, het die paaie in en om die hospitaal skoongemaak.
Hulle het in vrolike luim vloere gewas en gepolitoer.
Die Netcare-hospitaalgroep het meer as 80 babas, sommige vroeggebore en ernstig siek, ingeneem wat deur stakende gesondheidswerkers in Gauteng aan hul eie lot oorgelaat is.
Sowat 53 babas is ook vroeër uit die Natalspruit-hospitaal verwyder nadat twee daar gesterf het.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het gaan hand bysit in die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. Hy was vergesel van Qedani Mahlangu, die Gautengse LUR vir gesondheid, en Jack Bloom, DA-lid in die Gautengse wetgewer.
- Rapport