Busdrywers staak nou óók
2010-08-11 09:47
Pretoria – Busdienste in die Tshwane-metropool is Woensdag gestop weens ‘n staking, het die munisipaliteit gesê.
“Die busdrywers het Dinsdagmiddag met ‘n onwettige staking begin. Dit sal Woensdag voortduur en daarom is daar geen busse beskikbaar nie,” het Console Tleane, munisipale woordvoerder, gesê.
Volgens Tleane was daar geen vooraf kennisgewing gegee dat ‘n staking sal plaasvind nie. Die drywers wat wel wou werk is deur die stakers gewaarsku om eerder weg te bly.
“Die top-bestuur het Dinsdag met die drywers ‘n vergadering gehad, waarna die staking begin het. Na bewering is die drywers ongelukkig met sekere bestuurslede,” het Tleane gesê.
Die werkers is Dinsdag gemaan om teen 15:00 terug te keer werk toe. Hulle het egter nie en staar dissiplinêre stappe in die gesig.
Die vakbonde kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA