Busbestuurder wou glo nie 2 keer ry
2011-08-25 13:06
Knysna – Die bestuurder van die bus waarin 14 kinders dood is, het glo probeer om 58 kinders op een slag, pleks van twee keer te ry, skool toe te vervoer.
"Ek glo die bestuurder moes die eerste groep kinders gaan haal het en sou dan terugkeer om die res van die kinders op te laai," het Georlene Wolmarans, burgemeester van Knysna, Donderdag aan eNews gesê.
"Hy het al die kinders op een slag vervoer en dit is die oorsaak hoekom die bus oorlaai was."
Die bus het sitplek vir 32 passasiers.
Die busbestuurder en 14 kinders is dood nadat hy beheer oor 'n laagwaterbrug beheer oor die voertuig verloor en in 'n dam geploeg het.
Nóg 44 kinders is beseer, maar hulle is teen Donderdagoggend almal uit die hospitaal ontslaan.
Die kinders was almal leerders aan die Laerskool Rheenendal, waar 'n roudiens Donderdag gehou is.
Wolmarans het gesê Woensdag was 'n "swart dag" vir Knysna.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA