Bus-ongeluk: Metro-beampte sterf, 12 beseer
2011-02-01 15:08
Pretoria – 'n Metropolisiebeampte is dood en 12 mense is beseer nadat sy motor deur 'n bus in Hammanskraal getref is, het die polisie gesê.
Die beampte was nie aan diens nie.
Die bestuurder van die Star Lines-bus het omstreeks 08:00 beheer oor die voertuig verloor en teen 'n aankomende vragmotor en vier aankomende motors gebots.
Die beampte se motor is sowat 30 m ver gesleep voor dit tot stilstand gekom het, het William Baloyi, woordvoerder van Tshwane-gemeenskapsveiligheid, gesê.
Volgens Baloyi was die beampte onderweg na Hammanskraal en die bus het van Hammanskraal na Pretoria gery.
Reddingskake is gebruik om die beampte uit die motor te bevry, maar hy is op die toneel dood verklaar.
Elf passasiers en die busbestuurder is beseer en gehospitaliseer.
Die pad is vir verkeer gesluit, maar is sedertdien heropen.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA