Burgeroorlog in SA 'onwaarskynlik'
2011-08-31 15:16
Kaapstad – ‘n Professor in politieke wetenskappe sê dis “gevaarlik” om oor ‘n burgeroorlog te praat na aanleiding van die gewelddadige betogings wat in die Johannesburgse middestad plaasgevind het.
Prof. Amanda Gouws aan die Universiteit van Stellenbosch het aan Eyewitness News gesê sy glo nie Dinsdag se geweld buite Luthuli-huis kan tot ‘n burgeroorlog lei nie.
Duisende betogers het buite die ANC se hoofkwartiere saamgedrom om Julius Malema, omstrede leier van die ANC-jeugliga, te ondersteun.
Hy het in Luthuli-huis voor ‘n tugkomitee vir ‘n dissiplinêre verhoor verskyn.
Suid-Afrikaners het sosiale netwerke gebruik om hul vrese oor die geweld uit te spreek. Talle mense is van mening dat die geweld ‘n voorloper tot grootskaalse politieke onrus – soortgelyk aan die huidige situasie in die Midde-Ooste – kan wees.
Gouws sê ‘n burgeroorlog is onwaarskynlik, maar sy erken dat Malema sterkter is as wat die heersende party wil hê hy moet wees.
Lees meer hier.
Volg Nuus24 op Twitter.