Burgemeester van Oudtshoorn in die sop
2012-01-05 21:22
Johannesburg – Gordon April, burgemeester van Oudtshoorn, sal op 3 Februarie vir ‘n tweede keer in die dorp se landdroshof verskyn, het die Valke gesê.
Volgens die ondersoeker Frank Tolken staan April tereg op aanklagte van diefstal, intimidasie en die onwettige gebruik van ‘n munisipale voertuig.
April en sy medebeskuldigde, Raymond Wagenaar, hoof van die Oudtshoorn-munisipaliteit se departement van stormwater en strate, het op 23 Desember vir die eerste keer in die hof verskyn.
George Kersop, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak, het die aanklagte van diefstal en die gebruik van ‘n munisipale voertuig teen April gelê. Sy kollegas het die aanklag van intimidasie teen hom gelê.
April en Wagenaar is nie gevra om te pleit nie.
Malcolm Pojie, woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, sê April word daarvan beskuldig dat hy sand en steen – wat munisipale werkers in ‘n werksvoertuig by sy huis afgelewer het – gesteel het. Wagenaar het na bewering die aflewering gereël.
Munisipale werkers wat die voorval gesien het, sê April en Wagenaar het hulle geïntimideer.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA