Burgemeester se duur Benz pla
2010-09-09 08:46
Bloemfontein - Meer as R800 000 is te veel vir ’n uitvoerende burgemeester se motor – dié kan mos sy bestemming met ’n kleiner, goedkoper motor ook bereik, meen belastingbetalers.
Inwoners van die Xhariep-distriksmunisipaliteit, waar baie mense gebuk onder armoede gaan, is omgekrap nadat ’n peperduur Mercedes-Benz E500 van sowat R814000 vir dié munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Mongi Ntwanambi, gekoop is.
Volgens die munisipaliteit is al die regsprosedures in die aankoop van die motor nagekom en hulle het daarvoor begroot.
Die munisipaliteite Kopanong, Letsemeng en Mohokare val ander Xhariep. Volksblad het met twee gemeenskapsleiers in die distriksmunisipaliteit gesels.
“Hy kan mos met ’n klein Datsun ook van punt A na B kom,” sê Flip Potgieter, voorsitter van die aksiegroep op Phillipolis.
Manie Botha van die plaas Nellieshof in die Zastron-distrik sê die bestuur van die munisipaliteit behoort meer versigtig te wees in terme van geldbesteding.
Albei is dit ook eens dat die burgemeester steeds ’n ordentlike motor kon gekoop het wat baie goedkoper as die betrokke Mercedes-Benz is.
Die burgemeester se motor is aangekoop ondanks die wydverspreide armoede in dié distriksmunisipaliteit.
Volgens inligting op die distriksmunisipaliteit se webwerf word beraam dat byna 80% van die distrik se inwoners in armoede lewe. Boonop is die werkloosheidsyfer nagenoeg 34%.
Ander uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar is ’n agterstand in infrastruktuur en dienslewering.
Lucas Mkhwane, munisipale bestuurder, sê as die voertuig nie gekoop is nie, sou dienslewering en die veiligheid van die uitvoerende burgemeester in gedrag gekom het.
Volgens hom het die munisipaliteit sedert sy ontstaan in 2001 nooit motors gekoop nie.
Die burgemeester en raad het ou voertuie gebruik wat deur die provinsiale departement van openbare werke en die voormalige Bloemarea-distrikmunisipaliteit geskenk is.
Dit het egter te duur geword om die munisipaliteit se voertuie in stand te hou omdat dit oud en afgeleef was. Dít kon ook die gebruikers van dié voertuie se veiligheid in gedrang gebring het.
’n Raadsbesluit is toe geneem om die motors, asook ander ou items soos eiendom en toerusting, op te veil en nuwes wat meer ekonomies is, en die burgemeester se motor aan te koop.
Die veiling se opbrengs is by die begroting ingesluit.
Die munisipale voertuie en burgemeester se motor is by die begroting vir die 2010-’11-boekjaar ingesluit en aangekoop.
Senne Bogatsu, adjunk-direkteur van kommunikasie in die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, sê hulle oorweeg die kwessie en sal dit met die munisipaliteit bespreek.
- Volksblad