Burgemeester: Pretoria sál Tshwane word
2011-11-22 10:45
Pretotia – Pretoria se naam sal ten spyte van die koste of teenstand na Tshwane verander word, het Kgosientso Ramokgopa, burgemeester van die Tshwane-metropool, gesê.
Ramokgopa het gesê Pretoria se naamsverandering, sowel as die naamsverandering van 21 strate sal voor die einde van 2012 plaasvind, berig Pretoria News.
"Ons gaan onverskrokke en hardkoppig wees om te verseker dat ons geskiedenis reg opgeneem word omdat ons dapper helde die prys betaal het," het hy gesê.
Ramokgopa het Maandag gepraat waar 13 name op die Muur van Name aangebring is. Dié 13 slagoffers is tydens 'n optog oor huurgeld in 1985 doodgeskiet.
Hy het gesê hy gee nie om oor wat die media berig het oor die kostes wat verband hou met die naamsveranderinge nie, omdat geen bedrag geld te veel is om "geskiedenis reg op te neem nie".
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA