Bulle gaan Bees Roux verhoor
2011-10-01 12:25
Johannesburg – Die rugbyspeler Bees Roux, wat onlangs ’n opgeskorte vonnis vir sy aandeel aan die dood van ’n Tshwane-metropolisielid opgelê is, sal Dinsdag ’n tugverhoor deur die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) ondergaan.
Volgens inligting sluit die aanklagte in dat hy die unie se naam oneer aangedoen het, ook aangesien hy onlangs twee weke lank by die Pumas-rugbyspan geoefen het met die hoop om vir dié span uit te draf. Roux probeer sy rugbyloopbaan red, al is sy dae by die Bulle getel met sy kontrak wat einde vandeesmaand verstryk.
Die Bulle gaan sy kontrak nie hernu nie en wou na bewering met Roux skik deur twee maande se salaris aan hom te betaal sodat hy onmiddellik van sy kontrak onthef kon word.
Roux en sy regsverteenwoordigers gaan glo nie by die verhoor bes gee nie en eis vergoeding, aangesien die BBRU Roux reeds verlede jaar, nog voordat hy aan enige dade skuldig bevind is, geskors het.
Hy mag sedertdien glo nie saam met die span geoefen het nie en meen die unie het hom onregverdig behandel sedert die gebeure in Augustus verlede jaar toe hy Johannes Mogale doodgeslaan het.
’n Ingeligte na aan Roux het Vrydag gesê hy jeuk om weer te speel.
“Hy sê hy is topfiks en sterk en wil graag weer speel.”
Die Pumas is glo bereid om Roux speelkans te gee as hy van sy kontrak onthef sou word.
– Sport24
– Volg Nuus24 op Twitter