Buchan mis biddag weens weer
2011-07-31 09:59
Johannesburg - Selfs die prediker Angus Buchan is deur die weer gekortwiek toe hy nie Vrydag by ’n biddag op Oudtshoorn kon uitkom nie.
Dit gaan baie swaar in die Klein-Karoo met oorstromings in 2006 en 2007, gevolg deur ’n droogte van drie jaar en toe nog die uitbreek van die H5N2-virus (voëlgriep) onder volstruise vroeër vanjaar.
Die landbougemeenskap het Buchan gevra om saam met die boere te kom bid.
“Hy is self ’n boer en hy verstaan die boere se nood,” het Callie Wannenburg van New Life Ministries gesê.
Buchan se vlug Vrydag van Greytown na Oudtshoorn het in ’n nagmerrie ontaard toe aangepakte ys op die vliegtuig die tog lewensgevaarlik gemaak het en die vlieënier moes uitwyk Durban toe.
Lindie Gouws, wat saam met hom sou optree, het toe die boodskap van hoop gebring: “God seën Klein Jerusalem.” Oudtshoorn het destyds só bekend gestaan, waarskynlik danksy die groot Joodse gemeenskap wat hier gehelp het om die volstruisbedryf te ontwikkel.
“Baie boere is hartseer. Hulle sit in my kantoor en huil,” sê Piet Lodder, hoofbestuurder van Agri Klein-Karoo.
Drie weke gelede is ’n spesiale veiling gehou waarop boere toerusting en masjinerie kon verkoop om kop bo water te hou.
“Daar is ’n desperaatheid onder boere,” sê Barry Meier, ’n boer en sakeman van De Rust.
Vroeg in April is H5N2 op ’n plaas in die Klein-Karoo-vallei in ’n bloedmonster van ’n volstruis gevind. Op 11 April is die beweging en slagting van volstruise en die uitvoer van volstruisvleis verbied.
Net voordat die departement van landbou die Europese Unie kon vra dat die res van die land volstruisvleis kan uitvoer, het die virus ook op ’n plaas by Heidelberg uitgebreek. Plase in ’n 10 km-radius om die besmette plaas is onder kwarantyn.
Twee weke gelede kon boere in die Klein-Karoo-vallei begin slag vir binnelandse verbruik. Voor H5N2 was die waarde van ’n volstruis sowat R3 000. Nou het dit na R2 000 geval.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport