Buchan beloof grootste saamtrek nóg
2010-04-11 14:31
Johannes de Villiers
Angus Buchan vaar vandag die bosse in.
Daar in die woud naby sy plaas gaan die evangelis van Greytown, met net sy groot leer-Bybel en iets te ete, homself tot Vrydag afsonder.
Hy gaan bid voordat hy volgende naweek ’n Christen-mannesaamtrek – wat na verwagting die grootste in die wêreldgeskiedenis sal wees – toespreek.
Buchan verwag ’n volle 400000 mans op sy plaas vir die grootste Mighty Men-saamtrek nóg. En as mens saam met hom in sy Toyota Corolla op sy plaas rondry (sy Bybel van rooi leer op die paneelbord) erken hy in ’n onbewaakte oomblik hy sou nie verbaas wees as pres. Jacob Zuma self inloer nie. (“Wat sou jy doen as jy ’n politikus was en jy hoor van so ’n groot saamtrek?”)
Oral op die plaas stop Buchan om met ’n breë glimlag te gesels met werkers wat puttoilette, hooibale en ’n reuseverhoog aanbring. Die grootste deel van vier plase is omgeploeg en platgevee vir die verwagte kampeerders. Boere van buurplase is besig om 200000 hooibale voor die reuse-verhoog neer te sit (twee sitvlakke pas op een baal). En 8km se sesduimpyp is aangebring om stortwater uit die plaasdam te pomp.
“Dit kos miljoene, miljoene!” sê Buchan terwyl hy rondrits op sy plaaspaaie, spesiaal met gruis uit ’n nabye gat versterk vir die toerbusse wat daar gaan kom rondry.
Hy hoor nou nog van mense wat sê “Buchan wil net geld maak,” maar dié voorbereidings is volgens hom ’n bewys dat die geld in die saamtrekke belê word. En as vergoeding vir die buurplase waar boere weens dié ontwrigting “al drie jaar lank nie ’n saadjie kon plant nie”.
Wat gaan hy doen indien minder as die voorspelde 400000 opdaag?
“Ons is reg vir wie ook al opdaag,” sê oom Angus. Hy is nie soos koning Dawid wat net koppe tel nie.
En as sy gesondheid weer soos verlede jaar lol?
“Ek het geen exit strategyvanjaar nie. Ek is fisiek sterker as ooit.”
Buchan sê sy Mighty Men-saamtrek kom net op die regte oomblik. Die land word deur vrees lamgelê.
“Almal is bang. Wit mense dink dit is net hulle wat bang is, maar álmal is bang. Dit is nie toeval dat die saamtrek nou plaasvind nie. God gaan hier opdaag en vir mense weer hoop gee. Altesame 400000 ambassadeurs van Jesus gaan volgende week hier vertrek om vrede die land in te dra.”
Hy wil nie politiek praat nie, sê Buchan, maar “ek is ’n ambassadeur van die mense.
“En ek wil vir die mense sê ons kan nie langer in die verlede leef nie. God is ’n God van die toekoms, nie die verlede nie.”
- Rapport