Broer slaan onnie voor kinders dood
2011-11-16 11:24
Polokwane – 'n Laerskoolonderwyser is ten aanskoue van 'n klaskamer vol leerders in Matlala naby Polokwane met 'n panga doodgeslaan, het die polisie in Limpopo Woensdag gesê.
Lt.kol. Ronel Otto het gesê die 53-jarige man was Dinsdag besig om klas te gee by die Masehlong Primêre Skool toe sy broer instap en hom aanval.
Sy het gesê sommige van die leerders het die aanval probeer stop, maar dit was te gewelddadig.
Die onderwyser is hospitaal toe geneem, maar hy is kort ná sy aankoms by die hospitaal dood.
Sy 40-jarige broer is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van moord. Hy sal na verwagting Donderdag in die Matlala-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA