Britte wou 1time koop
2012-11-05 18:00
Kaapstad – Die Britse laekostelugdiens FastJet Plc het belang gestel om die laekoste-lugredery 1time oor te koop, maar die transaksie het op die laaste oomblik deur die mat geval, het Marius Croucamp, woordvoerder vir die vakbond Solidariteit, gesê.
“Die maatskappy het... op die nippertjie besluit om nie met die transaksie voort te gaan nie. Die bestuur van 1time het Vrydagoggend na dié terugslag met die ondernemingsreddingpraktisyn vergader, waarna besluit is om as ’n laaste uitweg vir likwidasie aansoek te doen," het Croucamp gesê.
Croucamp het bevestig dat die sowat 540 werknemers van 1time sonder werk sit.
“Werknemers is vanoggend tydens ’n personeelvergadering gevra om vorms in te vul waarvolgens hulle preferente eisers is en moontlik eerste in die ry sal wees om betaal te word indien die maatskappy gelikwideer word.
"Solidariteit hoop dat daar nog tydens die likwidasieproses ’n reddingsboei vir 1time gevind kan word,” het hy gesê.
Croucamp het ook gesê berigte dat 1time se bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel, Jetworx, vir likwidasie aansoek gedoen het, is nie waar nie.
“’n Groot deel van Jetworx se bedrywighede was by 1time en ons is bekommerd oor wat die laekostelugdiens se likwidasie-aansoek vir Jetworx sal beteken. Solidariteit vergader môre met Jetworx en sal na verwagting dan meer duidelikheid oor hierdie kwessie kry.”
– Fin24
– Volg Nuus24 op Twitter.