Britte vereis TB-toets vir visums
2012-12-22 15:00
Johannesburg – Suid-Afrikaners wat vanaf volgende jaar vir langer as ses maande in Brittanje wil woon, sal nou vooraf ook vir tuberkulose moet toets vir 'n visum, het Beeld Saterdag berig.
Die reël geld ook voortaan vir inwoners van Lesotho en Swaziland.
Volgens die webtuiste van die Britse grensagentskap kom dié stappe nadat die Britse regering in Mei vanjaar aangekondig het dat hy
sy TB-toelatingstoetse na ’n verdere 67 lande gaan uitbrei.
Die nuwe reël raak hoofsaaklik studente of sakelui. Die aansoeker moet die koste vir die toetse dra.
Die toetse behels ’n ondersoek en x-strale van die aansoeker se bors. ’n Klaringsertifikaat word vir negatiewe toetse uitgereik.
Aansoekers wat positief vir tuberkulose toets, sal eers die nodige behandeling moet ondergaan voordat verdere toetse gedoen word om te bewys die persoon is gesond.
Meer besonderhede is op die webblad www.ukba.homeoffice.gov.uk beskikbaar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA