Britse vrou dagvaar SA dokter
2011-02-03 14:44
Johannesburg – 'n Suid-Afrikaanse plastiese chirurg wat nou in Engeland gebaseer is, staar 'n vergoedingseis van R625,8 miljoen in die gesig van 'n vrou wat hom van brouwerk beskuldig, het MailOnline Donderdag berig.
Penny Johnson (49) beweer sy is gedwing om uit haar pos as direkteur van 'n internasionale finansiële en IT-maatskappy te bedank nadat senuwees rondom haar wang en oog beskadig is.
Sy het glo "onbeheerbare gesigbeweging, pyn rondom die regteroog en grimasse" as gevolg van die "eksperimentele" kosmetiese chirurgie.
"Die ma van drie eis R625,8 miljoen in skadevergoeding van die hoogs ervare kosmetiese chirurg, dr. Le Roux Fourie, wat sy beweer, probeer het om sy fout toe te smeer," het die koerant verder berig.
Fourie (55), wat oorspronklik van Suid-Afrika is, praktiseer sedert 2008 voltyds by die Methley Park-hospitaal naby Leeds.
Hoewel Fourie nalatigheid erken, betwyfel sy regspan dat die chirurgie die oorsaak van Johnson se finansiële verlies is.
Die koerant het berig dat hy bankrotskap in die gesig staar as die eis toegestaan word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA