Britse tiener sterf toe sy uit motor val
2010-01-06 05:17
Johannesburg - ’n Tienermeisie van die Verenigde Koningkryk is dood toe sy op die N2 in Mosselbaai uit ’n bewegende voertuig geval het, het paramedici gesê.
Paramedici het om Dinsdag om 20:30 ’n oproep oor die voorval ontvang en hulle na die toneel gehaas, het Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, gesê.
Dit is egter nog onduidelik waarom die 18-jarige uit die Pajero waarin sy gery het, geval het.
Die bestuurder van die nutsvoertuig, vermoedelik ’n Suid-Afrikaner, was erg geskok en moes deur paramedici kalmeer word. Hy kon nie verduidelik wat presies gebeur het nie, het Vermaak gesê.
“Volgens ’n omstander het dit gelyk asof sy uit die bewegende motor gespring het.”
Die meisie het verskeie beserings opgedoen en kon nie gered word nie.
Die polisie ondersoek die voorval.
-Sapa