Britse joernalis sterf by SA-fietsbekendstelling
2013-01-24 15:25
Kaapstad – 'n Prominente Britse motorfietsjoernalis is dood in 'n ongeluk tydens die bekendstelling van 'n nuwe BMW-motorfiets naby George.
Kevin Ash, die motofiets-korrespondent van die Daily Telegraph in Engeland, het saam met 'n groep internasionale joernaliste gery toe die ongeluk plaasgevind het, het BMW Donderdag in 'n verklaring gesê.
Die ongeluk het plaasgevind terwyl groepe joernaliste 'n tweedaagse rit onderneem het om BMW se nuwe R1200GS-motorfiets te toets. Die groep het na bewering die veld-gedeelte van die toetsroete begin toe die ongeluk plaasgevind het.
Verdere inligting is nie bekend gemaak nie, maar BMW het gesê die ongeluk het "noord van George" plaasgevind.
"Dit is met diep spyt dat BMW Motorrad die noodlottige besering van Kevin Ash in 'n motorfietsongeluk tydens 'n bekendstellingsgeleentheid in Suid-Afrika bevestig," het 'n woordvoerder van die maatskappy Donderdag in 'n verklaring gesê.
"Uit respek vir Kevin se familie en vriende sal geen verdere inligting in die stadium bekend gemaak word nie."
Adrian Roderick, hoofbestuurder vir BMW Motorrad in die Verenigde Koninkryk, het gesê hulle is geskok om die nuus oor Ash se dood te hoor.
"Om Kevin te verloor is 'n tragedie wat in die hele bedryf gevoel sal word. Nes hy 'n joernalis was, was hy 'n vriend en sal gemis word. Ons gedagtes is met sy familie, vriende en kollegas in die tyd."
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter