Brits sluit pad oor gevaarlike slaggate
2011-01-25 09:46
Johannesburg - Die R511 tussen Brits en Thabazimbi, waar yslike slaggate ’n doodsgevaar vir motoriste inhou, is deur die Brits-munisipaliteit gesluit.
Slaggate op dié pad, wat deur talle boere in die Brits- en Thabazimbi-omgewing en deur vragmotors van Zimbabwe en Botswana gebruik word, begin sowat 20km buite Brits en hou kilometers ver aan.
Pieter du Preez, ’n boer in die Brits-omgewing, het gesê dit is kommerwekkend hoe sleg die pad lyk. Hy het self in een van die ergste slaggate gaan klim en het net van sy borskas af boontoe uitgesteek.
Du Preez het gesê die gat het ingeval ná verlede naweek se reën en het elke dag groter geword. “Die munisipaliteit het die pad Dinsdag gesluit en is sedertdien besig om dit te herstel.”
Volgens Lukas Foche, bestuurder van die Atlanta-vakansieoord, is mense aangeraai om die grondpad langs die pad te gebruik, maar dit is net so sleg. Hul kliënte ry al sedert verlede jaar ’n ompad van tussen 60km en 80km om by hulle uit te kom.
’n Erg omgekrapte Foche het gesê van die mense het al dikwels ongelukke op dié pad gemaak.
“Hier staan juis ’n ou se woonwa wat se as op die pad gebreek het,” het Foche gesê.
Kobus van Zyl, wat net buite Brits boer, het gesê boere in die omgewing wat die pad daagliks gebruik, het verlede Mei saamgespan om die slaggate toe te gooi.
“Die Brits-munisipaliteit het net die teer verskaf en die boere het hul eie arbeid, voertuie en ander benodigdhede gebruik om die paaie te herstel. Maar dit het nie gehou nie,” het Van Zyl gesê.
“Dit is iets vreeslik, en mense het al soveel skade aan hul motorbande en voertuie gehad,” het hy bygevoeg.
Foche het gesê hy wil voorstel dat die boere in die omgewing vergader om die moontlikheid van ’n tolhek op die pad te bespreek.
“Die geld van die tolhek kan dan uitsluitlik gebruik word om die pad in stand te hou.”
Die Brits-munisipaliteit het nie op Die Burger se navrae gereageer nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger