Brink striem ANC
2010-09-14 08:20
Beeld
Johannesburg - Die ANC se aanslag op mediavryheid is ’n “daad van apokaliptiese arrogansie”, meen die skrywer André P. Brink in ’n skerp aanval op die Suid-Afrikaanse regering.
Sy artikel onder die opskrif “A long way from Mandela’s kitchen” het die naweek in die New York Times verskyn. Dis gister in dié koerant se internasionale uitgawe, die International Herald Tribune, op die meningsblad herhaal.
Brink skryf die woordgebruik in die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting en die voorstel oor ’n mediatribunaal herinner ’n mens “ysingwekkend aan dié wat deur die apartheidsregime in die 1970’s gebruik is om sensuur te verdedig”.
“Dit was nie Mandela se visie nie: Die nuwe Suid-Afrika was veronderstel om sinoniem met vryheid en openheid op alle vlakke te wees.”
Die euforie van die Mandela-era het egter vinnig ná sy aftrede verdwyn.
“Tog is daar een prestasie wat deurgaans die laaste bastion van hoop in die land was: die vryheid van uitdrukking. In die aangesig van korrupsie of magsmisbruik, van die president se kantoor tot by die laagste amptenaar, was die reg van die media en die mense om hulle uit te druk ’n reddingsmiddel.”
Nou verdwyn selfs dit. “Ons leiers sedert mnr. Mandela het diep weerstand gebied teen kritiek en die waarheid. Dit was waar van mnr. Mandela se opvolger, Thabo Mbeki, en dis selfs meer waar van die huidige president, Jacob Zuma, wie se regering en party ... die nuwe sensuurmaatreëls voorgestel het.”
Brink noem ’n voorbeeld van hoe sake in die apartheidstyd gewerk het.
Nadat een van sy boeke verbied is, het die veiligheidspolisie hom van ’n vliegtuig na Londen afgehaal om sy bagasie te deursoek uit vrees dat hy eksemplare van die boek uit die land wou smokkel.
“As ’n mens dink dat ek inderdaad op pad na Londen was vir die boek se publikasie daar, was dit asof ek in ’n verhaal van John le Carré, indien nie Lewis Carroll nie, beland het.”
Volgens Brink wys die voorgestelde wetgewing ’n “gevaarlike houding teenoor woorde, hetsy op skrif of mondeling”. Hy sê Zuma verdedig dit as ’n metode om die demokrasie te versterk, maar diegene wat die vorige regime, wat so afhanklik vir sy oorlewing van sensuur was, meegemaak het, weet dit werk nie so nie.
“Hoe ’n regering wat sy bestaan dank aan sy geloof in die ondeelbaarheid van vryheid daardie geloof nou so maklik kan verraai, is ondenkbaar. Dit is nie bloot ’n dwase daad nie, maar van apokaliptiese arrogansie,” volgens Brink.
- Beeld