‘Bring diensplig terug!’
2009-09-11 06:44
Cobus Coetzee
Johannesburg - Jongmense sal binnekort weer diensplig moet doen – maar dié keer as barmhartigheidsdiens.
Andile Lungisa, voorsitter van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NJOA), het gister gesê hulle kyk daarna om wetgewing te wysig wat jongmense wat pas skool verlaat het, te verplig om ’n soort diensplig te doen.
Hy het nie gesê wanneer die wysiging sal kom nie.
“Dit sal meestal barmhartigheidsdiens wees. Ons wil ’n sosiale bewussyn onder jongmense kweek,” het hy gesê.
Die NJOA beoog om 500?000 jongmense op te kommandeer en wil uiteindelik meer as 1?miljoen jongmense by die NJOA se projekte betrokke kry.
“Daar moet in elkeen van die 183 munisipaliteite ’n kantoor vir die agentskap geskep word. Jongmense moet daar aanmeld en by projekte aansluit,” het Lungisa gesê.
Volgens hom behoort studente, wat op universiteit is en lenings ontvang, verplig te word om gemeenskapsdiens van tussen drie tot ses maande te doen.
“Hulle moet hul nuwe vaardighede terugploeg in die gemeenskap,” het Lungisa gesê.
Hy glo Suid-Afrika behoort na Kuba te kyk en hoe hulle ’n bewussyn van verantwoordelikheid en nie-rassigheid onder die jeug kweek.
“Die Kubane het geen misdaad nie, want daar staan op elke hoek ’n jongmens wat gemeenskapsdiens doen,” het hy gesê.
Lungisa ontken sy planne sal ’n netwerk van jong spioene skep.
“Ons wil ’n basis van jongmense hê wat as daar nood in die land of elders in Afrika is, hulp kan verleen.
“En dié wat werkloos is, kan nuwe vaardighede kry.”
Lungisa meen almal sal ’n toelae ontvang.
- Beeld