Breyten: Praat eerder as slaan
2011-07-17 10:45
Kaapstad – Die Stellenbosse filosoof prof. Anton van Niekerk het vermoed hy kon vanweë sy oortuigings aangerand word deur mnr. Abel Malan, maar het nietemin ingewillig om hom te ontmoet in belang van die oop gesprek.
Van Niekerk praat nie tans met die media nie, maar uit Stellenbosse universiteitsgeledere is aan Rapport gesê Van Niekerk het dadelik onraad vermoed toe Malan hom wou “spreek”.
Hy het egter ingestem omdat hy in beginsel nie gesprek wou weier nie.
Omdat die filosofie-departement vanweë die universiteitsvakansie verlate sou wees buiten die sekretaresse, het Van Niekerk voorsorg getref en ’n veiligheidsbeampte is in die omtrek geplaas.
Die vonk vir die aanval op Van Niekerk was blykbaar toe Malan die reaksies en kommentaar op Van Niekerk se omstrede artikel oor witheid in Suid-Afrika gelees het.
Dit is tans onduidelik of Malan hoegenaamd self Van Niekerk se artikel gelees het voor hy hom gespreek het.
Die gesprek tussen Malan en Van Niekerk het emfaties eerder as empaties verloop, is aan Rapport gesê.
Die veiligheidswag-voorsorg is as geregverdig bewys toe Malan na bewering die lessenaar op Van Niekerk omgekeer en hom aangerand het.
Dié wag het tussenbeide getree, Malan is gearresteer, het in die hof verskyn en is tans in aanhouding.
Van Niekerk is hospitaal toe geneem.
Malan moet in aanhouding bly tot minstens Woensdag wanneer hy weer in die hof verskyn. In sy eerste hofverskyning is beweer hy moes hom reeds Donderdagaand in die aanhoudingselle “teen dreigende aanvalle verweer”.
Malan se regsverteenwoordiger en politieke geesgenoot, mnr. Paul Kruger, het gister aan Rapport gesê hy en Malan was deel van ’n landwye toer van sowat twee weke om hul politieke groep, die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK), se sienswyses te propageer.
Hy sê Malan het die dagblad Beeld gelees en met die idee vorendag gekom om Van Niekerk te gaan spreek.
Kruger het dit duidelik gestel dat die VVK nie geweld voorstaan nie, maar binne die Suid-Afrikaanse en internasionale reg – spesifiek art. 235 van die Grondwet – strewe na ’n eie grondgebied vir Afrikaners.
Hieroor het Kruger al verskeie gesprekke (volgens hom in goeie gees) met pres. Jacob Zuma gevoer. Hy voel egter driftig oor wat hy ervaar as ’n dekades lange etikettering deur wit liberale.
“As hulle net vir ons wil sê: ‘Julle is ’n klomp mal idiote, kom onder ons uit en gaan sit op Putsondergat’, sal ek geen probleem hê nie, maar nou word ’n mens geëtiketteer, al het jy hoeveel grade,” sê Kruger.
Luidens ’n e-pos wat die digter Breyten Breytenbach gister aan verskeie Afrikaanse filosowe gestuur het, is dit juis hierdie gevoel van uitsluiting wat in gesprek tussen filosowe en fasciste (sy term) uitgepraat moet word.
Breytenbach is self bereid om aan so ’n gesprek deel te neem.
Intussen het die akademikus prof. Willie Esterhuyse daarop gewys die gebeure is tekenend van groeiende fundamentalisme in die Suid-Afrikaanse politiek.
Hy sê die Afrikaner-fundamentalisme wat uit die aanval blyk en die swart fundamentalisme – of selfs Afro-rassisme – van iemand soos die ANC-jeugleier, Julius Malema, polariseer Suid-Afrikaners. Dit laat boonop toe dat hulle hulself regverdig juis deur mekaar se fundamentalisme.
“Daar is ’n diskoers van woede wat maklik omsit in ’n kortpad na geweld. Dan word gesprek en dialoog uitgeskakel.
“Afrikaners sal hopelik, in beginsel en ter wille van oorlewing, kies teen alle geweld in Suid-Afrika en dus ook teen Afrikanergeweld.
“Die meeste Afrikaners is nie deel van die fundamentalistiese kliek nie en wil die vryheidsruimte bewaar om ’n mening onbevrees te kan uitdruk.
“Daarom is dit noodsaaklik om nie die skandalige aanranding van Anton van Niekerk op enige manier goed te praat nie, maar sterk daarteen standpunt in te neem,” sê Esterhuyse.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport