Breinvliesontsteking eis Potch-leerling
2012-08-29 09:30
Johannesburg – ‘n Leerling aan die Potchefstroom Gimnasium het Maandagaand in die hospitaal gesterf nadat sy ‘n week vroeër ‘n aansteeklike meningokokkale breinvliesontstekinginfeksie opgedoen het, het ‘n koerant berig.
Beeld berig Simoné Swanepoel (15) het die week voor haar dood gekla dat sy siek voel.
Haar ma, Sonet, het gesê die leerling het gekla dat sy maag- en beenpyne het. Simone is toe in die Mooimed-hospitaal se intensiewe sorgeenheid opgeneem.
Simoné het skielik baie sieker geword en rooi kolle het op haar gesig en lyf begin uitslaan.
“Dit was net te veel vir haar lyfie; sy het inwendig begin bloei en haar organe het ingegee,” het haar ma gesê.
Karin van Reenen, bestuurder van die Mooimed-hospitaal, het gesê ’n lumbale punksie het bevestig die tienermeisie het meningokokkale meningitis gehad.
“Ons het die departement van gesondheid, die Instituut vir Oordraagbare Siektes en die skool dadelik in kennis gestel,” het Van Reenen gesê.
Antibiotika is as voorsorgmaatreël aan almal by die skool uitgedeel asook aan personeellede wat kontak met die pasiënt gehad het.
Volgens dr. Lucille Blumberg van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes word bakteriële meningokokkale infeksie nie deur lug nie oorgedra nie, maar wel deur kontak met liggaamsvloeistowwe.
Simptome sluit hoofpyn, ’n uitslag, nekstyfheid, naarheid en koors in.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA