Breinoperasie op DA-politikus suksesvol
2010-07-15 08:52
Susan Cilliers
Johannesburg - ’n Delikate operasie van sowat sewe uur is Dinsdag in Los Angeles in die VSA gedoen om ’n gewas so groot soos ’n ghoen van Juanita Terblanche, DA-LP, se breinstam te verwyder.
Dit was volgens alle aanduidings suksesvol.
Haar man, Reinier Terblanche, het Woensdag gesê die familie is verskriklik bly en verlig die operasie is verby en dat die gewas verwyder kon word sonder om sy vrou se gesigsenuwee te beskadig. As die senuwee beskadig is, sou dit tot gesigsverlamming kon lei.
“Juanita is nog onder sterk verdowing, maar wil reeds weet wat by die huis aangaan,” het mnr. Terblanche, ’n ekologiese konsultant en skoenlapperkenner, gesê. Hy het tuis in Potchefstroom gebly om na die egpaar se drie kinders om te sien.
Terblanche se ouers, Chris en Ina Hattingh, waak by hul dogter se bed. “As daar nou een keer was wat ek myself sou wou kloon, is dit nou!” het Reinier Terblanche gesê.
Volgens hom het die gewas self en die operasie om dit te verwyder wel Terblanche se balanssenuwee beskadig, maar was hulle daarop voorbereid. “Daar is reeds aanduidings dat haar brein daarvoor begin kompenseer het, maar dit gaan tyd neem om te herstel.”
Leandi Erasmus, ’n vriendin van Terblanche, het gesê sy sal nog sowat twee dae in die waakeenheid versorg word en oor twee weke na Suid-Afrika kan terugkeer. Volgens Erasmus is die deel van die gewas wat teen Terblanche se gesigsenuwee gedruk en geweldige pyn veroorsaak het, veilig verwyder.
Die gewas het tussen haar gehoor- en gesigsenuwee by die breinstam gelê.
- Die Burger