Bredasdorp-moordenaars 'moet in tronk verrot'
2013-02-08 16:50
Johannesburg – Diegene wat verantwoordelik is vir die verkragting en moord van ‘n tienermeisie van Bredasdorp in die Wes-Kaap, moet in die tronk verrot, het die departement van vroue, kinders en mense met gestremdhede gesê.
“Die departement... het ‘n beroep op die howe gedoen om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir die brutale verkragting en moord van Anene Booysen, in die tronk moet verrot,” het Cornelius Tanana Monama, ‘n woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Hy het ‘n beroep op mense gedoen om saam met die polisie te werk om ‘n einde aan geslagsgebaseerde geweld te bring.
“Die hoë vlakke van mishandeling teenoor vroue en kinders in ons land is ‘n groot bekommernis en ‘n pynlike herinnering van die verontagsaming van ‘n mens se lewe en menswaardigheid.”
Veiligheidswagte het die naweek die 17-jarige slagoffer in ‘n nywerheidsgebied op die dorp gevind. Sy is om die beurt verkrag en vermink.
Booysen is toe na Tygerberg Hospitaal geneem, waar sy ure later gesterf het.
Drie mense is tot dusver in verband met die aanval in hegtenis geneem.
Die meisie se eks-kêrel, Jonathan Davids (22), is een van die verdagtes.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA