Brandstofsituasie kan 'breekpunt' bereik
2011-07-15 07:01
Jody Nel en James-Brent Styan
Johannesburg – Al hoe meer vulstasies het Donderdag drooggeloop met nog geen vooruitsig op ’n einde aan die staking wat die brandstoftekorte veroorsaak nie.
Minstens 150 vulstasies in Gauteng was Donderdag leeg.
Reggie Sibiya, uitvoerende hoof van die brandstofkleinhandelaarsvereniging (FRA), het volgens Sapa gesê baie vulstasies meld nie hul tekorte aan nie uit vrees vir intimidasie. Hy raam tussen 200 en 250 vulstasies in Gauteng se pompe is eintlik leeg.
Mike Schüssler, ’n ekonoom, het gesê die brandstofsituasie kan binne ’n week breekpunt bereik.
“Tans is die brandstofkwessie nog nie ’n krisis nie. Vir nou is dit nog eerder ’n kwessie van ongerief eerder as anders, maar dié situasie kan drasties omswaai as dinge vir te lank so aanhou.”
Hennie Wessels, eienaar van ’n vulstasie in Bergbron, Roodepoort, het gesê syne is een van 50 BP-vulstasies in Gauteng wat nie brandstof het nie. Die Langlaagte-depot het Maandagaand die laaste keer brandstof daar afgelewer en dit het tot Dinsdag 12:00 gehou.
Drywers is te bang om die brandstof te vervoer, want stakers intimideer hulle.
“Ek kan nie verstaan hoekom die regering nie die weermag of die polisie uitstuur om saam met die drywers te ry nie,” het Wessels gesê.
Peter Noke, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleum-kleinhandelaarsvereniging (Sapra), het gesê die brandstoftekort raak erger. “Gauteng en KwaZulu-Natal word veral ernstig geraak.”
Volgens Noke lewer maatskappye brandstof volgens ’n prioriteitslys af.
Vulstasies langs hoofweë is die prioriteit, dan kommersiële ondernemings soos motorhuurmaatskappye en myne. “Gewone motoriste trek aan die kortste ent.”
Hy meen motoriste is ook selfsugtig deur na vulstasies te gaan en allerlei houers met brandstof te vul.
Sowat 70 000 werkers van die vakbonde Ceppwawu en Giwusa eis ’n minimum salaris van R6 000 per maand en ’n 40 uur-werkweek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld