Brandstofpryse kan weer styg
2010-01-15 13:16
Johannesburg - Ekonome voorspel dat brandstofpryse volgende maand weer sal styg.
Tony Twine, senior ekonoom van die onderneming Econometrix, voorspel dat diesel in Februarie 15 sent per liter duurder kan wees.
Hy meen dit is die uitwerking van die huidige tendense van die rand-dollar wisselkoers en die internasionale olieprys. Hy verwag dat die petrolprys ook met sowat 20 sent per liter sal styg.
Hy sê die rand-dollar wisselkoers en die olieprys het die afgelope twee weke hul onderskeidelike stygings uitgekanselleer. Derhalwe verwag hy nie drastiese prysstygings nie.
Twine sê die olieprys het die afgelope twee weke tussen $77 en $80 per vat beweeg, met die hoogste vlak van $81 per vat wat verlede week bereik is. Daarteenoor het die rand-dollar wisselkoers die afgelope twee weke tussen R7,29 en R7,54 per dollar beweeg.
Europese winter verras
Volgens Twine is die uitwerking van die bitter koue winter in Europa en Brittanje op die verbruik van olieprodukte verrassend laag. Hy sê daar is verwag dat die verbruik van produkte soos diesel, paraffien en verhittingsolie sou toeneem, maar die prysaanpassings toon dat verbruik dieselfde gebly het.
Lees meer op Landbou.com.