Brandstofprys sal almal se sak ruk
2011-04-29 17:02
Johannesburg - Die Vryheidsfront Plus (VF+) het die minister van finansies, Pravin Gordhan, gevra om die heffing op brandstof te hersien na die aankondiging van die jongste verhoging van 29c per liter.
Volgens Anton Alberts, woordvoerder vir die VF+, sou die prys baie hoër gewees het as dit nie vir die sterk rand was nie.
Hy sê die verhoging sal 'n rimpeleffek op die ekonomie hê en die regering het die verantwoordelikheid om die uitwerking te versag.
Die styging in die brandstofprys kom te midde van nog verhogings vir individue, soos tolgeldverhogings, die komende verhoging in kragtariewe en stygings in die tariewe van plaaslike regering.
Die vakbondfederasie Cosatu het ook gesê dat die jongste verhoging in die brandstofprys sal lei tot skerp stygings in die lewenskoste.
Vervoerkoste na en van die werk sal ook dramaties verhoog word. Die petrolprys styg van middernag Dinsdagnag af met 29c per liter.
Volg Nuus24 op Twitter.