Brandstigting by konsul-generaal se huis ondersoek
2013-02-10 13:10
Johannesburg – ‘n Saak van brandstigting is Sondag geopen ná ‘n brand by Lassie Chiwayoy, Suid-Afrika se konsul-generaal vir China, se huis, het die polisie in Mpumalanga gesê.
Die polisie het vroeër gesê hulle is nog besig met ‘n ondersoek nadat die motorhuis van Chiwayo se eiendom in Mbombela Vrydag aan die brand geraak het.
Kol. Leonard Hlathi het gesê ‘n saak is by die KaNyamazane-polisiestasie oopgemaak.
“Die skade beloop R1,8 miljoen,” het hy gesê.
Chiwayo se voertuig, ‘n vierwielmotorfiets en verskeie ander items is vernietig.
Hy het aan The Sunday Independent gesê hy dink die voorval is polities gemotiveerd en dat sy teenstanders “’n boodskap aan hom wil stuur”.
“Ek dink nie hierdie is net ‘n misdaad nie, want hierdie is die vierde keer wat my eiendom aangeval is en [dit gebeur saam met] foonoproepe wat vir my sê ek moet uit Mpumalanga kom. Ek het probeer om aan te beweeg van politiek in Mpumalanga, maar mense hou nie op nie,” het hy gesê.
Chiwayo was die burgemeester van Mbombela toe die munisipale speaker, Jimmy Mohlala, in 2009 doodgeskiet is.
Mohlala is slegs ‘n paar dae voordat hy sou getuig in saak wat met vermeende tenderbedrog in die Mbombele Wêreldbeker-stadion verband hou, vermoor.
Chiwayo het in daardie tyd glo kritiek uitgespreek oor die wyse waarop die polisie sulke sake hanteer, het The Sunday Independent berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA