Brandslagoffers se identiteit bekend
2011-11-09 13:17
Kaapstad – Die verkoolde lyke van sewe mense wat in 'n brand in Oudtshoorn dood is, is geïdentifiseer, het die polisie in die Wes-Kaap Woensdag gesê.
Kapt. Malcolm Pojie het gesê 'n geregtelike doodsondersoek word nog gedoen omdat gemene spel nie vermoed word nie.
Die lyke is geïdentifiseer as: Llewellyn Pieterse (22 maande), Ashwil Windvogel (7), Juandre Windvogel (10), Janine Pieterse (26), Marshall Vaaltyn (28) en Andrika Jantjies (28), Jan Galant (46).
Die brand het Sondag in die GG-kamp in die Bongulethu informele nedersetting buite Oudtshoorn uitgebreek. Die struktuur waarin drie gesinne gewoon het, is heeltemal verwoes.
Drie mense, waaronder 'n swanger vrou en 'n sewe maande oue baba, is beseer. Die baba het ernstige brandwonde aan haar gesig, liggaam en bene opgedoen en word steeds in die hospitaal behandel.
– Volg Nuus24 op Twitter