Branderryer tel glo siekte in see op
2010-01-13 09:25
Johannesburg – ‘n Branderplankryer van Oos-Londen dring daarop aan dat die Buffalo City-munisipaliteit sy mediese kostes dek nadat hy siek geword het as gevolg van dodelike bakterieë.
Die Daily Dispatch Online het Woensdag berig dat Billy Kruger deur E. coli-bakterieë vergiftig is nadat hy by Nahoon-strand geswem het.
“Dit kan mense doodmaak. Daar word branderplanklesse op die strand aangebied. Die hele ding (mediese behandeling) het my sowat R600 gekos. Dit het ook my werk geaffekteer omdat ek siekteverlof moes neem,” het Kruger gesê.
Volgens dr. Gerhard Coetzer het Kruger “gastro-enteritis infeksie” opgedoen wat meestal deur E. coli veroorsaak word.
“Ons is nie bewus van gevaarlike vlakke van E. coli by Nahoon-strand nie. Maar ons het versoek dat toetse dadelik gedoen word,” het Samkelo Ngwenya, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.
“Dit is aaklig wat met Kruger gebeur het, maar dit is onbillik om van ons te verwag om die mediese kostes te dek,” het Ngwenya bygevoeg.
– Sapa