Brande by hof dwing regering tot aksie
2009-10-08 11:09
Pretoria - Die regering is gedwing om sekerheid by die landdroshof in Pretoria te verskerp nadat 'n derde brand daar uitgebreek het, het die departement van justisie gesê.
Tlali Tlali, woordvoerder van dié departement, het gesê ‘n derde brand by die hof het gelukkig min skade aan die aanklaer se kantoor aangerig.
"Iemand het ‘n brandende papier deur die venster gegooi. Ons moet brandstigting as die oorsaak oorweeg, want dit is definitief nie ‘n grap wanneer iemand ‘n brandende papier in die gebou gooi nie, behalwe as dit ‘n verstandelike getremde is," het Tlali gesê.
Sekerheid by die hof verskerp weens die departement se bekommernis oor die brande.
Die eerste brand het Maandag in die hof se stoorkamer ontstaan waar papiere en meubels gestoor word.
Sowat 15 mense, insluitend 12 gevangenes en twee brandbestryders is vir rookinaseming behandel.
‘n Tweede brand het Dinsdag op die vierde vloer uitgebreek. Dié keer was dit reg onder die landdros se stoel.
"Die brand het op die vierde verdieping in hofsaal een uitgebreek. Dit het omstreeks 15:30 onder die landdros se stoel begin brand.
Sy tafel en bank was heeltemal verwoes. Dokumente wat op die bank was, het ook verbrand,” het Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-munisipaliteit gesê.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
-Sapa