Bejaardes vlug van vlamme
2012-02-06 17:55
Kaapstad – Nooddienswerkers was Maandagmiddag besig om inwoners van ‘n aftree-oord te ontruim weens rook wat deur ‘n brand in Houtbaai veroorsaak is.
Keri Davids, woordvoerder van die Mediese Nooddienste, het gesê die ontruiming het omstreeks 14:10 begin.
Die brandweer in Kaapstad probeer die brand onder beheer bring.
Theo Layne, woordvoerder van Brand en Redding, het gesê verskeie voertuie is na die toneel, wat aan ‘n woongebied grens, ontplooi.
“Die brand is nie onder beheer nie, maar geen eiendomme is op die oomblik in gevaar nie,” het hy gesê. “Dit hang nou alles af van omstandighede met die wind.”
Volgens Lane is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.
Hy het gesê nog ‘n brand in die Macassar-gebied buite Kaapstad is teen Maandagmiddag geblus.
Leanne McKrill, woordvoerder van Working on Fire, het gesê weerlig het Maandagoggend tot die ontstaan van ‘n brand buite Hermanus gelei.
“Ons het nie ‘n span daar nie, maar ‘n helikopter monitor die brand,” het sy gesê.
Brande woed ook in Piketberg, Aurora, bo Caledon en in die Ouplaas-gebied naby Dutoitskloof.
‘n Brandweerbeampte het vroeër Maandag gesterf toe ‘n rots op hom geval het terwyl hy ‘n brand bestry het tussen Piketberg en Velddrif.
Lees meer hier.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA