Brand verwoes Pick n Pay op Brits
2012-08-08 10:30
Fotogalery - Brand by PicknPay
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Kaapstad – ‘n Brand het Woensdag vroegoggend by ‘n winkelkompleks op Brits in die Noordwes uitgebreek, het ‘n ooggetuie gesê.
Edwin Leemans, ‘n inwoner van die dorp, het aan Nuus24 gesê hy was omstreeks 06:40 op die toneel nadat sy seun hom op pad skool toe van die voorval in kennis gestel het.
Leemans, wat kursusse in brandbestryding en risikobestuur gedoen het, sê dit lyk asof die brand by die Safari-sentrum se Pick n Pay ontstaan het.
Hy het sy misnoeë oor die brandbestryders se diens op die toneel uitgespreek.
“Brits s’n was nie voldoende nie. Hartebeespoort se brandweer is later ontbied, maar het eers teen 07:00 of 07:30 opgedaag,” het hy vertel.
“Daar was totale wanorde.”
Hy het bygevoeg dat die brandweervroue se drukking op die pyp “te min” was vir dié spesifieke brand.
“Ná die publiek gevra het of iemand wat bevoeg is, haar (die brandweervrou) nie wil gaan help nie, het een man die brandslang opgetel en voortgegaan.”
Die ooggetuie het vertel hoe hy na die agterkant van die kompleks geloop het en gehoor het hoe blikkieskos in die brand ontplof.
Leemans sê die brand was teen 10:00 nog nie geblus nie.
Hy sê paramedici op die toneel het gesê niemand is beseer nie.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend, maar Leemans sê daar is “twee stories” oor hoe die brand ontstaan het.
Hy sê gerugte doen die ronde dat hawelose mense oorkant die winkelkompleks vuur gemaak het, wat moontlik tot die brand by die kompleks gelei het.
‘n Raadslid op die toneel het glo gesê die brand het “spontaan” in ‘n stoor ontstaan.
“En wat van die sprinkelstelsel? Hoekom het dit nie afgegaan nie?”
Brits se brandweer kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24