Brand-tragedie by skool vir blindes eis vier
2010-11-29 13:51
Johannesburg – Vier seuns is dood toe hul koshuis by die Christiana Skool vir Blindes aan die brand geslaan het, het owerhede in die Noordwes Maandag gesê.
Die vier seuns, tussen die ouderdomme van agt en nege, is oorlede nadat hulle rook ingeasem het in die kamer waar hulle geslaap het, het Paul Ntlatleng, woordvoerder vir die departement van onderwys, gesê.
Die brand het Sondagaand omstreeks 22:30 in die skool ontstaan.
Die lyk van een leerling wat ligte brandwonde aan sy kop opgedoen het, is onder die bed gevind, het Ntlatleng in ‘n verklaring gesê.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Polisie is steeds op die toneel om die omvang van die skade vas te stel.
Die kinders se name kon nog nie vrygestel word nie aangesien hul families nog nie in kennis gestel is nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA