Brand lê ou huis in puin
2011-10-24 08:01
Kimberley – ’n Gesin van Westend se lewe is aan skerwe nadat hul huis in Greenstraat Saterdagmiddag op ’n onverklaarbare wyse afgebrand het.
Die Philander-gesin het vriende in die tuin onthaal toe iemand die rook sien. Hoewel almal die vlamme probeer blus het, was dit vergeefs.
Hulle het Sondagoggend moedeloos in die netjiese tuin langs die huis gesit. Hulle kon nie ’n koppie tee geniet nie, omdat die elektrisiteitstoevoer afgesny is.
Die huis se sinkdak was swart gebrand en die verf afgedop. Die mure, meubels, plafon en toebehore in die huis was vol roet. Buite het yskaste en vrieskaste gestaan.
Die gesin het Sondag eers 04:00 ná al die drama gaan slaap. Hul 22-jarige seun, Brent Philander, het in sy motor geslaap.
“Ons het 12 jaar in die huis gewoon en baie verbeteringe aangebring,” sê Marco Philander. Die huis met hoë houtplafonne is volgens hom “so oud soos die Kimberley-myn”.
“Almal het Saterdagmiddag agter in die tuin gekuier. Ons het vriende van Bloemfontein onthaal. Daar was niemand in die huis nie. Skielik het iemand rook by die voorkant onder die afdak sien uitborrel.
“Ons het besef die huis is aan die brand. Ek het ons driejarige seuntjie, Bjorn, gesoek en buite gekry. Danielle, sy sewejarige sussie, was by ’n maatjie se verjaardagpartytjie. Die brand het in haar kamer ontstaan.
“Almal het met emmers water en tuinslange gehardloop om die vlamme te probeer blus. Ons moes later opgee. Die brandweer was binne tien minute hier. Ons kon net toekyk en sien hoe ons besittings deur die vlamme verswelg word,” sê hy.
Volgens sy vrou, Rhoda Philander, is al hul besittings swart van die rook en roet.
“Alles stink. Selfs die klere in die kaste, waarvan die deure toe was, is pikswart. Ons sal dit dalk nie weer kan aantrek nie. Ons kon net ’n sitkamerstel, ’n yskas en vrieskaste red,” sê sy.
Die Philander-gesin moet nou agter in ’n tuinwoonstel bly totdat die polisie en versekering se ondersoeke afgehandel is. Mev. Philander se pa, Earl Fortuin (79), bly ook by hulle.
“Hoewel ons in die woonstel kan bly, is daar die krag nie. Daar is dus nie warm water om in te bad nie,” sê sy.
Kons. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het Sondag gesê die oorsaak van die brand word ondersoek. “Die brand het omstreeks 19:20 ontstaan. Dit lyk of die brand in ’n kamer ontstaan en toe na die dak en die res van die huis versprei het. Ons vermoed nie gemene spel nie,” sê Kock.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad