Brand in fabriek onder beheer
2011-04-22 20:00
Johannesburg – Brandweermanne het Vrydagmiddag die brand wat by ‘n fabriek in Booysens, suid van Johannesburg, gewoed het onder beheer gebring, maar daar was steeds kommer dat die 30-meter hoë gebou inmekaar kan stort.
Volgens woordvoerder Percy Morokane sou dit nog tyd neem voordat die brand heeltemal geblus is.
“Hulle sit met hope komberse en daar moet seker gemaak word dat die brand nie weer aangewakker word nie,” het hy gesê.
JJ Viljoen van die Johannesburgse nooddienste het gesê dat die brand in die kelder uitgebreek het.
“Die hitte wat uit die kelder gekom het was so intens dat dit veroorsaak het dat die boonste vloer kraak. Dit kan dus enige tyd inmekaar stort,” het hy gesê.
“Ons kan ook nie water gebruik nie as gevolg van die gewig daarvan. Dit kan veroorsaak dat die gebou inmekaar stort.”
Skuim is in die gebou ingepomp om die vlamme te blus.
Ongeveer 95% van die brand is geblus.
Volgens Morokane is die materiaal wat in die fabriek gestoor word hoogs vlambaar.
Die fabriek, Gordon Prince, maak items soos duvets, komberse en dekens.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA