Brand in Somerset-Wes verwoes hotel
2011-04-17 18:51
Wallace du Plessis
Kaapstad – Die bestuurder van ‘n hotel, wat Saterdag afgebrand het in ‘n verwoestende veldbrand buite Somerset-Wes, sê al wat hy kon red, was die kantoor se rekenaar.
Die Straightway Head-hotel het Sondagoggend nog gesmeul.
Hary Pinchen het aan Nuus24 gesê hy het daarin geslaag om die gaskleppe toe te maak en die krag af te skakel voordat die vlamme die hotel omstreeks 09:00 Saterdag verswelg het.
Die vlamme het van ‘n huis langs die hotel se grasdak gespring. Slegs twee eenhede in die hele kompleks is nog staande.
Die brand het só vinnig versprei dat die meeste van die brandblussers nie gebruik kon word nie en steeds teen die mure hang – swart gebrand, nes die res van die gebou.
‘n Skildery was nog hier en daar tussen die puin sigbaar.
Personeellede wat op die eiendom gewoon het, het alles verloor.
Inwoners van Somerset-Wes sê die brand het ontstaan as ‘n lang lyn vlamme naby die Helderberg-natuurreservaat, wat die vermoede laat ontstaan dat dit ‘n beplande brand was.
Die wind van tot 60 km/h wat toe gewaai het, het die brand egter vinnig buite beheer laat versprei. Vyftien huise is deur die brand verwoes, asook die Straightway-hotel, wat in 1939 gebou is.
Die brand het oor die berg gewaai en het Sondagmiddag gedreig om na die Hidden Valley-plaasgebied te versprei.
Die wind het gelukkig gaan lê.
‘n Groep seuns van nege en 10 jaar oud het ‘n noue ontkoming gehad toe hulle Saterdagoggend bo die natuurreservaat gestap het en skielik in die middel van rook en vlamme was.
In hul ontsnappingspoging het twee van die seuns verlore geraak, maar daarin geslaag om hul weer by die groep aan te sluit.
Die brandweerdienste het hulle teen die berg af begelei.
Nooddienste-personeel wat van diens af was, is Saterdagmiddag inderhaas van oor die skiereiland heen ingeroep om bystand in die bestryding van die brand te bied. Onder meer is drie helikopters in die bestrydingspoging ingespan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24