Brand in Pta se middestad
2010-01-26 18:54
Pretoria - ‘n Brand het Dinsdagmiddag die boonste verdieping van ‘n gebou in die middestad van Pretoria verwoes, het die departement van gemeenskapsveiligheid gesê.
Volgens Console Tleane, woordvoerder, het die brand omstreeks 16:30 by die Van Riebeeck-gebou op die hoek van Van der Walt- en Schoemanstraat uitgebreek.
“Slegs die agtste vloer het gebrand. Daar was ook niemand in die gebou tydens die voorval nie. Ek kan bevestig dat die gebou geen strukturele skade opgedoen het nie,” het hy gesê.
“Die gebou is reeds vir ‘n geruime tyd leeg, daarom was niemand daar binne nie.”
Verkeer in die middestad het as gevolg van die voorval tot stilstand gekom. Die hulp van sowat veertig brandweermanne is ingeroep om die vlamme te blus.
Volgens Tleane is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.
–Sapa