Brand by bank geblus
2009-10-05 12:01
Johannesburg- Die brand wat vroeg Maandagoggend by die Nedbank-gebou in Beyers Nauderylaan uitgebreek het is binne 10 minute geblus, sê die brandweer.
“Dit wil lyk of die brand in die kelder van die gebou begin het. Die rede vir die ontstaan van die brand is nog nie bekend nie,” het Percy Morokane, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, gesê.
Die brand het omstreeks 08:00 uitgebreek. Volgens Darryn Browning, ‘n ooggetuie wat eerste op die toneel was, het hy net rook gesien toe hy die deur in die parkeerarea oopgemaak het.
“Ek het ‘n brandblusser gegryp en die vuur probeer blus,” het Browning gesê. Volgens ‘n werknemer van Nedbank blyk dit of die stoorkamer in die kelder, waar verskeie dokumente gestoor word, aan die brand geslaan het.
Niemand is in die voorval beseer nie.
– Sapa