Brand by Golden Gate
2009-09-08 12:34
Bloemfontein – ‘n Brand het ‘n gedeelte van die Basotho-kultuurdorp kamp in die Golden Gate Nasionale Park in die Vrystaat vernietig, het ‘n amptenaar van die park Dinsdag gesê.
Johan Taljaard, Golden Gate park se bestuurder, het gesê dat die brand vroeg Dinsdagoggend begin het en nege van die 24 eenhede van die kamp vernietig het.
“Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie,” het Taljaard in ‘n verklaring gesê.
Die brand het na bewering tussen 02:00 en 03:00 begin en “onbevestigde observasies” dui daarop dat die brand by die eenhede aan die linkerkant van die kampterrein tussen die pad en die ontvangsarea uitgebreek het.
Die Basotho-kultuurdorp kamp gaan tot verdere kennisgewing gesluit wees.
Taljaard het gesê dat ander dele van die kamp, soos die museum, nog oop sal bly.
Hy het bygevoeg dat die kampterrein uitgeboek was vir die komende vakansiedag op 24 September.
- Sapa